Ontwaak deur kuns, kwas en kleur
Behalwe vir hul besondere vriendskap word hierdie drie vroue saamgebind deur kuns, kwas en kleur.
In die geselligheid van hul ateljees op die Art Farm leer ons drie uiteenlopende Alberton kunstenaars van nader ken, en bring hul liefde vir die skilderkuns nuwe bewondering vir talent, kleur en die smeer van ’n kwas.
Dié drie se paadjies het gekruis by kunsklasse aangebied deur Ina Wilken.
In Woord en kuns:
Hannah Viljoen se liefde vir kuns kom van haar kindsdae af en hoewel sy 16 jaar as mondhigiënis gewerk het, het sy letterlik haar loutering in skilderkuns gevind in die sewe jaar stryd wat sy gevoer het, voor sy in 2015 onder die naam Hannah begin skilder het.
Vir haar is haar werk ’n manier om te loof en te prys. “Dit is asof ek ’n nuwe taal skryf wanneer ek skilder en ek word beslis gelei deur die Woord.” Of dit nou iets is wat sy op haar eie aanpak en of dit ’n werk is wat sy op versoek doen.
Mense ken haar as Henriette en sy vertel hoe sy die geleentheid tot groei gekry het deur iemand anders wat tot bekering gekom het. En haar groei het net nooit opgehou nie. “Ek was besig met ’n werk vir die NG Kerk Alberton-Wes toe ek deur die Woord gelei is om ’n nuwe naam, Hannah, te omhels. Terloops, my eerste naam is Johanna en Hannah beteken om genade te kan afbid en te kan deel.”
Haar man Ernst het hierdie pad saam met haar gestap en vandag is hy soveel deel van Artworks soos Hannah wat voor die doek staan en skilder. En dit is hier waar hulle deur aanbiddingskuns die Woord verder uitdra.
Ernst vertel dat om aan een van hierdie werkswinkels, ‘Worship through art’, deel te neem het jy nie nodig om kunstig of talentvol te wees nie. Daar is gewoonlik gebed en skrif voor die mense begin skilder. Dit wat hulle deur die Woord ervaar, word dan op doek vasgelê en wat anderkant uitkom, met die fokus op vorm, struktuur en kleur, is meestal abstrak. Maar dit is in die besprekings en deel daarna, met iets te ete, waar die bediening gebeur. Daar waar mense deel en gesels.
Nuutgevonde passie:
Adri Grobler sal jou met ’n glimlag vertel dat as ’n oud-onderwyser in biologie en lewenswetenskappe by Hoërskool Alberton, haar regterbrein nie eintlik gewerk het nie.
“Biologiesketse was die horison van my regterbrein, maar ’n nuwe wêreld het vir my oopgegaan tydens ons kunsklasse. Met my kinders uit die huis was hierdie die regte ding teen die leë nes sindroom.”
Met haar vroeë aftrede in 2014 kon sy haar nuutgevonde passie ten volle uitleef. “Ek is so geseënd. Daar is nog nie een dag in my dae as pensionaris wat ek gewonder het wat ek met hierdie dag gaan maak nie. Ek skilder vir hom om,” sê sy met ’n glimlag. “Dit is belangrik dat mense daai iets in hulle vind waarmee hulle kan aangaan na aftrede – hoe gouer hoe beter.”
“Hierdie is iets wat ek vir altyd en enige plek kan doen. Toe ons nou onlangs met vakansie was, is die skildergoed saam.”
Sy vertel hoe sy baie braaf haar eerste uitstalling by haar huis gereël het en as introvert was dit vir haar moeilik. Moeilik om haar werk bloot te stel aan kritiek, maar die terugvoer was wonderlik en haar skilderye het verkoop. “Ek het geweet as dit goed genoeg is vir ander mense om in hul huise te hang, is ek op die regte pad.”
Volgens Adri is kleur- en kwasgebruik haar sterk punte. “Maar” gaan sy voort: “Dit is belangrik om altyd werkswinkels by te woon en van mekaar te leer, want mens sal nooit alles kan weet nie. Ek wil nie op ’n punt kom waar ek sê ‘I have arrived’ nie – ons drie leer steeds van mekaar en altyd van iemand anders.”
Stories op doek:
Lizett Jubber se persoonlikheid vul die vertrek toe sy instap en haarself voorstel met “Ek is sommer net Lizett,” en vandaar doen sy die geselswerk.
“My ma, Maureen Botha, was ’n baie kreatiewe mens en het die mooiste goed gemaak. Sy is beslis my inspirasie en ek het maar altyd geteken.” In die destydse standerd ses (Graad 8) is sy na die kunsskool in Pretoria, het haar man op 19-jarige ouderdom ontmoet, is op 20 getroud en het plaas toe getrek en latere jare haar pad na Alberton gevind.
“My kuns was maar bra op die agtergrond terwyl ek my twee seuns grootgemaak het en ek het eers later weer, saam met my ma, by Ina uitgekom vir kunsklasse. My tema is mense. Ek is mal oor mense en lief vir kinders. Wanneer ek kinders skilder moet hulle ’n storie vertel en daar is niks wat soveel karakter gee aan ’n skildery as ’n plooigesig nie.
“Omdat ek ’n mense-mens is, en dit my voorliefde is om mense te skilder, hou ek dop, neem ek waar, soek ek na stories en iets anders om op doek vas te lê. Jy kan met sekerheid sê hierdie aspek van my maak my dan ook ’n prentjie- en storiemens.”
En bang vir waag is sy nie. “Uitdagings vir nuwe goed is wonderlik. Soms dink ek my eie uitdagings gee my gryshare, maar dit is lekker om die eindproduk te kan aanskou.”
Lizett kan nie wag om weer iets nuut aan te pak nie. “Ek is op die oomblik net ongelooflik besig met ander werke wat versoek is, maar ek kan jou een ding sê, wanneer ek daar klaar is kan jy maar hierdie spasie dophou. Iets nuut en iets wonderlik is op pad. En vir die wat intussen wil loer waarmee ek besig is, besoek gerus my blad op Facebook by LizArt.”
En so is die kuier op ’n einde en propvol inspirasie wat mens net wil deel. Dié drie vroue se menswees, hul pad saam as studente van Ina Wilken, hul liefde vir kuns en natuurlik, hul werke. Maak die tyd en vat die pad na die Art Farm so op ’n Saterdagoggend en gaan loer in by Hannah, Adri en Lizett. Jy sal beslis nie spyt wees nie. Art Farm is geleë op Plot 56, Klipriver Road, R550, Alewynspoort.
.






