LIGJARE is ’n omgee- en Bybelstudiegroep wat deur Ligstad gestig is.
In Augustus 2013 het Ligstad ’n uitnodiging aan NG Alberton-Wes en ander gemeentes in die dorp gerig om hul senior lidmate uit te nooi om deel te word van die beoogde groep.
Aanvanklik is daar klein begin, maar Ligjare het gegroei en ontwikkel tot ’n doelgerigte geestelike omgeegroep vir senior gemeenskapslede van Alberton. Hier word die geleentheid gebruik om geestelike kennis en ervarings te deel sodat lede geestelik kan groei en mekaar in hul lewensreis kan ondersteun. “Christene se geestelike lewe is nie net tot hul kennis van die Bybel beperk nie, maar behels ook om deur hul Skepper bemagtig te word om die mens te word wat Hy in gedagte gehad het – mense wat geestelik floreer bring seën in ander mense se lewens en doen dit in onverwagte en nederige omstandighede,” sê Alida Jooste, projekbestuurder en maatskaplike werker by Ligstad.
Ligjare kom weekliks op ’n Dinsdag om 10:00 by Ligstad in die kerkgebou op die hoek van Van Riebeecklaan en Gerrit Maritzstraat in Alberton-Noord bymekaar. Senior gemeenskapslede, spesifiek van Alberton-Noord, maar ook van ander dele van die dorp is welkom om by die groep aan te sluit en deel te word van ’n geestelike familie.
Vir verdere navrae kontak Alida by 079 693 3666.



