MET ’n verfkwas in die hand, olieverf, Jan Blohm-musiek en iemand soos Yvette Oosthuizen kry jy skilderye wat jou asem sal wegslaan.
Dié kunstenaar wat op 19 September 1967 in Alberton gebore is en nogsteeds hier bly, skilder al vir die afgelope 10 jaar voltyds.
Yvette het grafiese kuns studeer en daarna as ’n grafiese ontwerper gewerk. Sy het ook op ’n tyd gehelp om klere te ontwerp vir Edgars, Mr Price en ander bekende klerewinkels.
Tussen dit alles het sy steeds daai brandende begeerte gehad om net te skilder. Sy het in ’n onderhoud met die RECORD gesê dat sy dalk die kreatiewe brein by haar ouma gekry het omdat sy ook baie kunstig was.
Yvette is sterk beïnvloed deur die Pre-Raphaelites en haar werk is hoofsaaklik figuurlik met ’n sterk profetiese atmosfeer. Sy glo dat ware kuns ’n boodskap gee of kommentaar oor die samelewing lewer.
Mense wat die lewenstryd aanpak en steeds positief daaruit kom, fasineer haar en dis ook gewoonlik ’n inspirasie vir ’n nuwe skildery. Sy het vertel dat haar eerste skildery oor ’n engel was wat bo op die aardbol gestaan het met ’n lantern by haar voete. Dit weerspieël die boodskap van laat jou lig skyn en gebruik jou talent. Yvette skilder graag donkies, portrette en voëls, maar sy hou nie daarvan om blomme te skilder nie. “Blomme is mooi, maar dis alles dieselfde.” Haar gunsteling medium is olieverf. Sy het al ses suksesvolle solo uitstallings by Aardklop, KKNK en Snowflake gehou.
Haar nuutse solo uitstalling was op Vrydag 8 April tydens die nagmark by Sha-Mani. “I desperately seek your beautiful face,” is die uitstalling se naam en dit handel oor mense wat tussen al hulle swaar tye almal na die Here soek. “Ek probeer die mens se soeke, seerkry en lewensreis uitbeeld, dié wat opsoek is na meer,” het sy gesê.
Die een skildery waaroor die uitstalling handel en ook haar gunsteling een, is ’n gesig van Jesus. Die skildery laat ’n mens kalmte en vrede ervaar.
Yvette het verder gesê dat sy ’n droom in 2013 gehad het, waarin sy die Here se oë gesien het. “Dit was onbeskryflik en ek dink nou nog dat ek dit nie so perfek geskilder het soos wat dit in my droom was nie.”
Jan Vermeer inspireer haar as kunstenaar en in haar lewe is dit Hendriette Barnard wat hierdie talentvolle kunstenaar inspireer.
Haar toekomsplanne behels nog baie uitstallings, miskien al een in 2017 tydens Paasnaweek.
As Yvette nie skilder nie, is sy ’n ma van twee dogters en sy en haar man, Eugene, is al vir 25 jaar lank getroud.
Sy hou nie daarvan om vooruit te beplan nie en dus vat sy elke dag soos dit kom.
Yvette is beslis ’n kunstenaar met talent, wat werklik ’n boodskap met elke skildery gee en sy is definitief een om dop te hou.




