Local NewsNews

Allies terug op die wenpad

’n Klipharde stryd tussen die twee spanne om balbesit, dis pragrugby op sy beste.

HOËRSKOOL Alberton is weer op die wenpad na ’n klipharde stryd tot oorwinning teen Hoërskool Dr Malan van Meyerton op 9 April op Alberton se veld.

Beide spanne het alles uitgehaal wat tot goeie rugby gelei het. Met die wedstryd wat teen ’n vinnige pas begin het, en albei spanne wat die momentum aan die gang gehou het, om balbesit te verseker is pragrugby vir die toeskouers opgedis.

Deur die loop van die wedstryd, het Allies een groot verandering gemaak en hul losskakel en die heelagter se posisies omgeruil. Hoewel Caltino Jones na losskakel moes skuif, en met tye gesukkel het om met die senters op te lyn, het sy spel ’n onvoorspelbaarheid aan die agterlyn bewegings verleen.

Caltino was betrokke by alle aspekte van die spel en het selfs met tye, by die skrumskakel oorgeneem. Dit was dus geen verrassing toe hy losgebreek het vir die eerste van sy twee drieë na ongeveer 20 minute se spel nie. Die drie is verdoel deur Francois Myburgh wat die telling na 7-0 opgeskuif het.

Hierna het Allies effens konsentrasie verloor en ‘n paar foute gemaak met die skrum wat gesukkel het, maar het tog nooit na negatiewe spel oorgegaan nie.

In hierdie fase het Dr Malan se heelagter, Pieter van Vuuren twee strafskoppe oorgeklits, een van binne sy eie halfgebied met die rustydtelling 7-6.

Aan die begin van die tweede helfte het die besoekers die Alliespan gedurig onder druk geplaas en hulle is beloon met Pieter wat sy derde strafdoel netjies tussen die pale deurgesit het om die telling 9-7 in Dr Malan se guns te swaai.

Dié verandering in die wedstryd het nuwe lewe in die Alliespan geblaas en hulle het as span saamgestaan en die druk op hul opponente geplaas. Caltino het sy tweede drie, wat ’n prag solo vertoning was, gedruk en dié is deur Francois verdoel wat die telling na 14-9 laat wipplank het.

Kort hierna het die spankaptein, Lunga Molele homself agter Dr Malan se doellyn bevind en die telling het na 19-9 opgeskuif wat dan ook die eindtelling was.

Voorwaar ’n pragwedstryd met beide spanne wat goeie karakter op die veld openbaar het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button