DIE 80-jarige David Johannes Mansion is na vyf dae veilig en ongedeerd gevind.
Die RECORD het op Dinsdag 3 Mei oor David Mansion wat weg was, berig. Sy skoondogter, Karen Lewis, het op Woensdag 4 Mei laat weet dat hy na vyf dae gevind is. Volgens haar het hulle David Dinsdagmiddag na 15:30 in Ennerdale gekry. David wat aan Alzheimers en dimensia ly het glo na sy seun se huis toe geloop. Karen het vroeër aan die RECORD gesê dat hy laaste op Vrydag 29 April gesien was, maar toe sy en haar seun egter daai middag by die huis aangekom het, het hulle agtergekom dat hy nie daar is nie.
“Ek het aangeneem dat hy net na die kafee toe geloop het, want die huis was gesluit en sy sleutels was nie daar nie,” het sy gesê. Die soektog het toe begin en die gesin was selfs by lykshuise om hom daar te soek.
“Hy is baie deurmekaar en uitgeput, maar veilig. Ons het hom weer teruggeneem huis toe,” het Karen gesê.
Karen het ook gesê dat hulle baie dankbaar is dat God vir David veilig bewaar het.
Hulle bedank ook die volgende mense:
• Pieter Scheepers, Luis, Ian en al die lede van die Alberton CPF wat betrokke was met die soektog.
• Gayle en al die vroue van die Pink Ladies;
• Sersant Ngoako Mongalo van Alberton SAPS;
• Lourens van South Africa Search and Rescue;
• Familie en vriende wat ook gehelp het in die soektog.



