Geliefde Albertonner sterf
Ans se roudiens is op Vrydag 6 Mei om 10:00 vanuit die NG Kerk se wesgemeente.
ANS Badenhorst (70), ’n Albertonner van 46 jaar, is op Sondag 30 April skielik aan ’n beroerte in die Union Hospitaal oorlede.
Volgens haar dogter, Elzanne Vorster, het Ans op 22 April in haar huis haar kop agter oopgeval. “Ons het haar na ongevalle geneem en sy is van toe af in die hospitaal,” het sy gesê.
Vir die wie nie vir Ans geken het nie, sy het Afrikaans en Engels vir grade agt tot 12 gegee. Sy het vir baie jare by Hoërskool Alberton sowel as by EG Jansen en JG Strydom skoolgehou.
Ans is op 5 September 1945 in Boksburg gebore. Sy het aan EG Jansen gematrikuleer en daarna, agter die liefde aan Stellenbosch toe getrek.
Dit is in Stellenbosch waar sy onderwys studeer het. Ans is in 1967 met Hennie Badenhorst getroud en hulle het vir ’n ruk lank in die Kaap gewoon voordat hulle in 1970 na Alberton verhuis het.
Die jaar 1989 was ’n moeilike tyd in haar lewe toe haar eersteling, Johan Badenhorst, in ’n motorongeluk gesterf het. “Dit was ’n baie traumatiese tyd in haar lewe,” het Elzanne gesê.
Hulle tweede kind, Elzanne, is in 1974 gebore. Voordat sy begin skoolhou het, was sy ’n kontinuïteitsaanbieder by die SAUK.
In 2009 is haar man Hennie aan sy hart oorlede. Ans het in 2007 afgetree en ook Elzanne begin uithelp om na haar kleindogter, Fabi, te kyk.
Elzanne het aan die RECORD gesê dat haar dogter, Fabi (8), haar ma se oogappel was.“In die agt jaar van my dogter se lewe het sy so baie by my ma geleer en soveel liefde ontvang,” het sy gesê.
Ans het tot voor haar dood dramaklasse aangebied en klas gegee by kleuterskole. Sy was ook Alberton Damesklub se voorsitter vir jare en was ook betrokke by ander organisasies.
Elzanne beskryf haar ma as ’n ekstrovert wat altyd met haar hart op haar mou geloop het. Sy was lief vir haar taal en vir kinders. “Ek gaan dit mis om haar nie hier op aarde te hê nie, sy was ’n wonderlike ma vir my en ’n onbeskryflike liefdevolle ouma vir Fabi,” het Elzanne met trane in haar oë gesê.
Sy laat ook haar enigste suster, Marie Maree, agter.
Ans se roudiens is op Vrydag 6 Mei om 10:00 vanuit die NG Kerk se wesgemeente.



