Vroue geintereseerd in geskiedenis
Vir meer inligting, skakel Anita Liesching, die skakelbeampte, by 083 457 6332.
HISTORIESE geboue en gemeenskapsbewustheid was aan die orde van die dag tydens Brackenhurst VLU-tak se vergadering op Woensdag 4 Mei.
Leopold Dussing, die gasspreker vir die oggend, het die lede meer oor die geskiedenis van die Eeufeeskerk vertel. Die kerk is in Augustus 1916 gestig. Hoewel die gemeente as sulks ophou bestaan het, is veral die eerste gemeente wat van dié moedergemeente afgestig het, naamlik die NG Kerk Alberton-Wes, ’n dogtergemeente van die oorspronklike Eeufeeskerk gemeente. Alberton-Wes is dus baie nou betrokke by die res van die kerkgebou se verhaal sover dit Ligstad raak. Ligstad is ’n gemeenskapsorganisasie wat gestig is met die doel om die gemeenskap op te hef, deur die gemeenskap self te gebruik.
By Ligstad word daar onder andere omgesien na bejaardes en kinders lê Ligstad ook baie na aan die hart. Die historiese ou kerkgebou word ten volle tot voordeel van Ligstad en die gemeenskap ingespan.
Gerhard Moerdyk, wat ook die Voortrekkermonument ontwerp het, was die argitek van die kerkgebou. Die kerkkoepel is dan ook simbolies verbind aan die Voortrekkermonument.
Leopold het ou staaltjies van ’n paar leraars wat in die beginjare in die gemeente gedien het, gedeel. “Die ossewaspore in die sementblok voor die kerk is tydens die ossewatrek in 1938 vasgevang. Die oorspronklike kerkklok moes ook afgehaal word en na Oos-Londen vervoer word, waar dit gesmelt en oorgegiet was, omdat herstelwerk nie meer moontlik was nie,” het Leopold vertel.
Irma Gerber, ’n VLU-lid, het ook tydens die vergadering die studierigting van die jaar, Kuns en Geskiedenis, uitgestal. Die uitstalling het oor die San, Boesman en Khoisan gehandel.
Daar was ook ’n uitstalling en bekendstelling van Marita van der Vyver wat die skrywer van die jaar is.
Die volgende VLU-vergadering sal op 1 Junie gehou word en vroue word genooi om dit by te woon. Vir meer inligting, skakel Anita Liesching, die skakelbeampte, by 083 457 6332.





