
AFRIFORUM se buurtwag in Alberton het op 12 Mei, in samewerking met Evolutionary Tracking Solutions en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), ’n gesteelde voertuig aan die regmatige eienaar terugbesorg.
Die eienaar van die gesteelde voertuig het die voorval by Willie van Wyk, voorsitter van die AfriForum-buurtwag, aangemeld. Van Wyk het Evolutionary Tracking Solutions genader omdat die voertuigeienaar se selfoon in die voertuig agtergebly het.
Evolutionary Tracking Solutions het die koördinate van die selfoon bepaal, waarna die SAPD se reaksie-eenheid dié koördinate gevolg het.
“Die koördinate het ons tot by ’n huis in Rosettenville gelei, waar die voertuig opgespoor is en ’n verdagte gearresteer is. Ons wil alle rolspelers bedank wat tot die sukses bygedra het. Vinnige optrede is enige misdadiger se grootste vyand,” het Wico Swanepoel, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid, gesê.
*Inligting verskaf deur Willie van Wyk en AfriForum aanlyn.



