Xanilee is steeds Alberton se ster
Mense moet uitkyk vir Xanilee en kan net die beste verwag.
XANILEE Hammond se sangloopbaan het nie by ‘The Voice SA’ gestop nie, want volgens haar het dit nou eers begin.
Die RECORD het al vele kere oor die sangeres, wat tot by die Top 16 van ‘The Voice SA’ deurgedring het, berig. Sy het op Sondag 8 Mei uitgeval.
Met ’n positiewe gesindheid het sy gesê dat sy elke oomblik van die avontuur geniet het. “Ek het so baie geleer en soveel mense ontmoet wat soos familie vir my geword het,” het sy gesê.
Volgens Xanilee het die kompetisie haar verander, sterker en gereder gemaak vir dit wat nog op haar wag.
Op haar toekomslys is dit net musiek, skryf en sing. Sy het aan die RECORD gesê dat sy tans besig is met haar nuutste album. “Ek gaan nou weer volstoom optree,” het sy vertel.
Oor ’n paar weke gaan Xanilee haar eerste Afrikaanse debuut liedjie vrystel.
Sy het ook gesê dat sy hard gaan werk en baie insit om van haar passie ’n sukses te maak en voluit te leef.
Xanilee het ook gesê dat sy Suid-Afrika en die wêreld met haar musiek gaan verander.
“Ek gaan my beste probeer om ’n groot verskeidenheid van musiek aan te bied.
I am gonna take the world by storm,” het sy gesê.




