Local NewsNews

Anton staan vir niks terug nie

'Swartson' is in gewone drukskrif en in Braille beskikbaar.

ANTON Pienaar (74) het nooit gedink dat hy vandag met sy eie boek in sy hand sal staan nie. “Ek het nie eers daarvan gehou om opstelle op skool te skryf nie,” het hy laggend gesê.

Anton is op 4 April 1942 in Durban gebore en het op 18 maande masels gekry wat tot komplikasies met sy sig gelei het. Hy kon tot op die ouderdom van 16 jaar nog bietjie sien, maar daarna het hy sy sig geleidelik verloor. Anton het in die Oos-Kaap grootgeword en het skoolgegaan in Worcester by die Skool vir Blindes. Hy woon sedert 1963 in Alberton.

Op 4 Mei 1999 was die eerste radiodrama, ‘Grensrivierstasie’, uit sy pen op RSG uitgesaai. Vandaar het sy passie vir skryf behoorlik vlam gevat. ’n Hele ruk na sy eerste radiodrama wou hy nog ’n radiodrama skryf, maar weens snel veranderde tegnologie was dit vir hom nie maklik nie. “Om blind te wees pla my nie, ek het dit aanvaar en my raad aan ander is dat om blind te wees nie die einde van die wêreld is nie – ’n mens moet net jou omstandighede aanvaar.”

Soos enige skrywer wat ’n beginner is, het hy geskryf en opgehou en weer die pen opgeneem. ‘Swartson’, sy debuutroman, het hom 15 jaar geneem om te skryf. Anton moes baie leer voordat hy kon begin skryf. Om ’n uitgewer te kry was ’n groot uitdaging vir hom. ’n Goeie vriend van Anton het toe vir hom van Publishing World SA vertel.

“Ek het my boek aan hulle gestuur en hulle het dadelik belanggestel en die wiel aan die rol gekry,” het Anton gesê.

Hy het aan die RECORD vertel dat hy alles eers op sy Braillemasjien geskryf het en dit toe oorgedra het na sy rekenaar met sagteware wat alles weer aan hom voorlees. ‘Swartson’ is in gewone drukskrif en in Braille beskikbaar. Anton is tans besig om die boek self op cd vir Bandop vir Blindes, ’n nasionale biblioteekdiens vir lees gestremdes in Grahamstad, op te neem.

Bietjie meer oor ‘Swartson’

Die titel ‘Swartson’ is gekies omdat die son vir die karakter nooit regtig helder geskyn het nie. Die spanningsverhaal handel oor die lewens en verhoudings van veral vyf mense.

Net buite Duinbaai lê The Game Plaza, een van die voorste wildsplase in die Oos-Kaap. Dis hier waar Niel Oelofse, beter bekend as Mannetjie, woon. Die wanhantering, deur baie mense om hom, van sy gestremdheid as ’n dwerg, benadeel hom egter so dat hy nooit die sonkant van die lewe ken nie. Onder die bekwame, maar sluwe leiding van sy tweelingbroer, wat hy kleintyd gehallusineer het, word hy ’n hoogs bedrewe reeksmoordenaar. Die besondere vernuf waarmee hy sy moorde pleeg, laat die polisie met hul hande in hul hare.

Al inligting wat hulle bymekaar kon maak, is dat ’n ooggetuie gesien het hoe ’n kind met rooierige hare van ’n moordtoneel af weghardloop. Hierdie knaende tekort aan leidrade laat ’n ondersoekbeampte besluit om op eie houtjie ’n lokval te stel. Dit loop egter uit op ’n reuse katastrofe, maar dit bring tog ook ’n sprankie hoop, iets waarmee die boosdoener dalk net vasgetrek sou kon word. Die boek is 440 bladsye lank. Anton is tans besig met sy tweede boek, ‘Dwaaljoernaal’.

Bekendstelling

Die bekendstelling van ‘Swartson’ vind op Vrydag 27 Mei by The Art Farm plaas. Saam met Anton stel drie ander skrywers, Johan Pretorius, Francois Stemmet en Mariqi Nell ook hul boeke bekend.

Anton het ook gesê dat hy met die bekendstellingsaand wil hê dat mense moet verstaan waaroor die boek gaan en ook die probleme van ’n blinde skrywer leer verstaan.

As Anton nie skryf nie, is hy ook ’n klavierstemmer en in sy vrye tyd luister hy graag na musiek.

Hy is op 24 Maart 1974 met sy vrou Susan getroud en hulle het twee dogters en drie kleinkinders. “My gesin is my anker in die lewe,” het hy gesê.

Kyk videos oor Anton hier:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button