DIE RECORD het vroeër vanjaar oor die mooie en talentvolle Ruan van Biljon (21) berig, net voordat hy aan die Mnr Mardi Gras-kompetisie, vanaf 27 April tot 1 Mei, gaan deelneem het.
Na afloop van die kompetisie en ‘n welverdiende blaaskans vir Ruan, loer ons weer by hom in om bietjie meer oor die mens agter die model uit te vind.
1. Hoe het jy die Mr Mardi Gras-kompetisie ervaar en hoe het dit gegaan?
Mr Mardi Gras was ’n ongelooflike ervaring wat ek vir altyd sal onthou en wat ek definitief weer sal aanpak. Dit het goed gegaan, maar ek glo dat my ouderdom ongelukkig teen my getel het,omdat ek onder van die jongstes daar was.
2. Gaan jy weer aan die Mr Mardi Gras-kompetisie deelneem?
Ek sal weer oor drie jaar die kompetisie aanpak, wanneer ek ’n bietjie ouer is en meer oefening agter die rug het om voor groter gehore te praat.
3. Hoe het jou passie vir modelwerk begin?
Ek het nooit in my wildste drome gedink dat ek ooit modelwerk sou doen nie, want ek was nou nie die die mooiste kind gewees nie. Soos ek ouer geword het was daar egter meer en meer mense wat my aanbeveel het om modelwerk aan te pak, en dit is hoe alles begin het.
4. Wat van modelwerk hou jy die meeste van?
Die eindproduk is verseker vir my die beste deel van modelwerk, net om te sien hoe die resultate uitdraai is ‘n baie goeie gevoel.
5. Watse uitdagings beleef jy as ’n model?
Die grootse uitdaging as ‘n model is om situasies te kan lees, omdat geen twee geleenthede dieselfde is nie, en ook om aanpasbaar te wees, want daar is nie twee kliënte wat dieselfde van jou sal verwag nie.
6. Wat is ‘n “moet” vir ’n model?
Om ’n model te wees is nie net om mooi te lyk nie, natuurlik moet ’n mens ’n gesonde lewenstyl hê, maar jy moet ook ’n rolmodel wees, met integriteit en morele waardes.
7. Wat doen jy in jou vrye tyd?
Ek is eintlik maar ‘n ‘jack of all trades’. In my vrye tyd ontwerp ek webtuistes en gaan gimnasium toe.
8. Enige ander stokperdjies?
Ek het ‘n groot liefde vir seevisse, so my grootste stokperdjie is seevis akwariums. Ek is ook die eienaar van “Quality Marines South Africa”, wat ’n seevis en koraalinvoerder is. Ons voer visse in van Mauritius, Australie, Bali en Vietnam. (www.qualitymarines.com)
9. Wie inspireer jou en hoekom?
Definitief my ma. Sy het haar stryd teen kanker in 2014 verloor, maar tot vandag toe is sy nog my grootste inspirasie. Sy was ’n ongelooflike sterk en suksesvolle vrou wat altyd haar droom gevolg het en die beste van die lewe gemaak het. Die voorbeeld wat sy gestel het, inspireer my elke dag om ’n beter persoon en rolmodel vir ander te wees.
10. Wat is jou lewensmotto?
Ek glo ‘if you can dream it you can achieve it. Dit is vir my ’n belangrike motto, omdat ek groot drome het vir my toekoms en ek gaan alles in my vermoë doen om seker te maak hulle kom waar. Een van hulle is om die grootste invoerder te wees van seevisse deur akwariums.
11. Waar en wanneer is jy gebore?
Ek is gebore op 2 September 1994, in Empangeni, Richardsbaai.
12. Hoe lank bly jy al op Alberton?
My familie het in 2004 van Richardsbaai af Alberton toe getrek, so dit is nou al 12 jaar wat ek in Meyersdal woon.
13. Waar het jy gematrikuleer?
Ek het in 2012 aan die Hoërskool Marais Viljoen gematrikuleer.
14. Het jy boeties of sussies?
Ja, my jonger broer Zandré is 18 jaar oud.
15. Wat lê nou vir Ruan van Biljon voor?
Ek begin ’n nuwe werk in Junie as ’n korporatiewe rekeningebestuurder by Travel PA, ’n reisagentskap wat na besighede se reisplanne omsien.
16. Waar kan mense jou dophou in die toekoms?
Mense kan my Facebook-blad gaan ‘like’ op www.facebook.com/ruanvanbiljonmodel, asook my Instagram op www.instagram.com/ruanvanbiljon




