Dit is met groot hartseer dat Allieland oftewel Hoërskool Alberton, vanjaar afskeid neem van hul geliefde hoof, Hendri Schoeman, wat na 22 jaar aftree.
’n Leerling, Ankia Ackermann, het die volgende geskryf:
“Meneer Schoeman het sy loopbaan as hoof van Hoërskool Alberton in Augustus 1994 begin toe hy die leisels by die voormalige hoof, Dr P Krynauw oorgeneem het.
“Deur die jare het Mnr Schoeman as leidsman ’n gebalanseerde omgewing vir ons as leerders geskep waar ons in akademie, kultuur en sport kon presteer. Meneer het dit ook reggekry dat die skool tot erfenisgebied verklaar is sodat die nodige opgraderingswerk aan ons skool gedoen kon word.
“Mnr Schoeman word daarvoor geeër dat hy verseker het dat Christenskap die fondasie van ons skool gebly het en ook in die toekoms sal bly. Meneer se besonderse Christelike karakter het vir ons ’n uitstekende voorbeeld gestel. Mnr Schoeman sal onthou word vir sy streng, maar regverdige benadering tot alle situasies, asook sy sin vir humor.
“Baie dankie dat meneer vir ons taal en kultuur baklei het. Ons is trots om volgende jaar die enigste suiwer Afrikaanse skool in die dorp te wees. Dankie dat meneer bereid was om elke jaar op Valentynsdag ontvoer te word. Meneer was werklik so ’n groot deel van ons skool se tradisies, gees en karakter.
“Ons wens vir meneer is dat meneer ’n rustige aftrede saam met die familie sal geniet en mag liefde, vrede en voorspoed meneer in die toekoms vergesel.
“Ons weet dat meneer die Allies nooit sal vergeet nie. Mag die Allie-bloed nog lank deur meneer se are vloei. Ons laat meneer met die volgende woorde: “Eens ’n Allie, Altyd ’n Allie!”
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.





