UITSPRAAK is op 17 Mei voorbehou in die hofsaak tussen OGOD (Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie) en FEDSAS (Federasie
van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole) oor die beoefening van godsdiens in skole.
Laerskool Randhart, in Alberton, is een van die skole wat betrokke is by die saak.
AfriForum het die regsproses in dié saak as van die grootste belang vir alle Suid-Afrikaners beskryf en glo dat FEDSAS en verskeie ander Vriende van die Hof (insluitend AfriForum) die belang van godsdiensbeoefening oor die algemeen en Christelike godsdiensbeoefening in die besonder in skole deeglik beklemtoon het.
“As ’n uiterse diverse gemeenskap, is dit vir Suid-Afrikaners noodsaaklik om van jongs af wedersydse erkenning en respek aan te leer vir mense wie se kulture en sienswyses van hulle eie verskil. Hulle moet ook leer om met hul eie identiteite gemaklik te wees, insluitend hul geloofsoortuigings. Dít is waarom ’n godsdienstige etos in skole behou moet word,” sê Alana Bailey, van AfriForum.
Bailey verduidelik ook dat godsdiensbeoefening ook nie, soos OGOD voorstel, bloot tot aktiwiteit verskraal word wat kinders in pouses of voor of na skool soos ’n stokperdjie beoefen nie. “Dit vorm die waardes en dus ook daaglikse optrede van die individu; daar moet vryheid wees om dit te beoefen en kinders moenie met die idee groot word dat hulle of hul onderwysers gestraf mag word as geloofaksies nie tot sekere tye en ruimtes beperk word nie. Godsdiensvryheid is immers een van die regte wat die grondwet duidelik omskryf,” voeg sy by.
AfriForum beklemtoon dat die saak alle gelowe en dus die totale gemeenskap raak – die uitspraak gaan nie alleen die toekoms van openbare skole bepaal nie, maar ’n veel wyer impak hê.
Die REKORD het vir Laerskool Randhart genader vir kommentaar, maar hulle wou nie nou kommentaar lewer nie omdat die hofsaak nog aan die gang is.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Alberton Record: 060 644 5264 Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



