NISHA Ismail (52) het al diep rye spore in die mense van Alberton se harte getrap met haar vrygewige drukkies, vriendelike persoonlikheid en gasvryheid. Sy is al vir 33 jaar lank die bestuurder by Maxi’s en Wimpy. In 1986 het sy saam met ander kollegas die Maxi’s in Alberton City vir die eerste keer geopen. “Dit was die eerste Maxi’s in Alberton en die derde een in Suid-Afrika.” Uit die 30 jaar het sy ook vir twee jaar lank by Panarottis gewerk. “Ek het eers as ’n skoonmaker en ’n kassier by Wimpy in Markstraat vanaf 1984 gewerk. Ek wil mense aanmoedig om aan hulle drome vas te klou en nooit moed op te gee nie, want alles gebeur met tyd,” het sy gesê.
Die lekkerste deel van haar werk is om daagliks met mense van verskillende kultuurgroepe te werk. “Ek leer ken soveel nuwe mense en ons word ’n familie.” Baie het al gesê dat sy soos die sepie, 7de Laan, se karakter, Charmaine Meintjies, is. Van haar grootste uitdagings was toe die vorige eienaar, Bertus Bonthuys, sowat ’n jaar gelede aan ’n hartaanval oorlede is. “Ek het heeltyd gewonder of ons dit gaan maak sonder hom, want hy het ons so baie geleer en gemotiveer,” het Nisha gesê. Sy het hom vir 12 jaar geken en het hom as ’n voorbeeldige persoon beskryf. Steve Munsie, ook een van die eienaars, was haar dryfkrag omdat hy haar van dag een af gedruk het en baie geleenthede vir haar geskep het. Nisha het dié 30 jaar as plesierig, uitdagend en suksesvol beskryf. Volgens haar was dit op ’n tyd moeilik toe daar geen busse in Alberton in mag gery het nie en sy noodgedwonge moes ver loop om by die werk te kom. Sy het gesê dat sy met ’n glimlag terug kyk na die verlede.
Op die ouderdom van 15 jaar het Nisha se ouers haar uit die skool gehaal sodat sy kon begin werk. “Omdat ek uit ’n Moslem-familie kom, moes ek en my vyf susters vroeg begin werk.” Die bestuurder van Wimpy het haar daai tyd ’n pos by Wimpy aangebied. “Ek het net graad agt agter my naam so dit was moeilik om werk te kry,” het Nisha gesê. Dié veeltalige bestuurder se personeel hou haar gees jonk en haar kliënte maak haar werk die moeite werd.
Haar man, William Sefioshe, is 10 jaar gelede oorlede en sy het haar twee kinders alleen grootgemaak. “God het my deur alles gedra en my die moed gegee, want ek meen die dood is nooit maklik nie.” Sy is vandag ook ’n ouma van twee kleindogters. Nisha het verder gesê dat sy haar kinders so grootgemaak het sodat hulle self hul keuses kon maak, maar sodra sy gesien het dat dit die verkeerdes was, het sy ingespring. Nisha het byna 16 jaar gelede haar lewe aan Christus gegee en dit is alles te danke aan haar man. “Hy het sy lewe voluit sonder enige vrees geleef en ek wou ook só leef.”
Sy het die Alberton-gemeenskap as ’n familie wat vir mekaar omgee beskryf. Sy het ook al soveel kinders voor haar oë sien grootword. Dit is vir haar lekker om altyd na ander se stories te luister en raad te deel. Nisha reël ook jaarliks ’n bus wat haar personeel en hul gesinne na Bela-Bela (Warmbad) toe vat. “Ek het toevallig die eenkeer gehoor dat baie van die kelnerinne se kinders nie kan swem nie. En dit is toe dat ek besluit het dat ek hulle wil leer swem, so daar leer ek die kinders swem.” Laggend het sy gesê dat dit ’n missie is om hulle in die water te kry, maar dat dit onmoontlik is om hulle weer daar uit te kry. Jaarliks word daar ook ’n ete vir die gestremde kinders van die Hamlet Home gehou. “Die kinders verlaat nooit die restuarant sonder om te sing nie. Hulle is so soet en dankbaar,” het Nisha gesê. Haar ma, Fatima, is haar grooste inspirasie. Sy het 16 kinders in moeilike omstandighede grootgemaak en was suksesvol. “My pa was ’n alkoholis, maar ek het haar nooit gehoor kla nie.”
Nisha se lewensmotto: ‘Disciplined kids are happy kids’, speel ’n belangrike rol in haar lewe. Sy het ook met die REKORD gedeel dat van haar vorige kelnerinne vandag sakevroue, vlieëniers en onderwysers is. Dit is vir haar lekker om te sien hoe haar kelnerinne sukses behaal. Sy het afgesluit en gesê dat sy oor niks spyt is nie en dat sy weer die laaste 30 jaar sou herhaal.



