News

Damesoggend samel fondse in vir hospice

Dit wat baie as vanselfsprekend aanvaar, is iets waarvoor ander biddend pleit.

“Aarde tyd is geleende tyd” was die boodskap van hoop en inspirasie tydens ’n onlangse damesoggend wat gehou is ten bate van Stepping Stone Hospice.

Dié damesoggend, op 20 Februarie by die Alberton LewenSentrum, is gebore uit die hartseer en pyn wat Maritha Meaker en haar gesin van Alberton deurgemaak het nadat hul 11-jarige dogter, Martelise, haar stryd teen kanker verloor het. Stepping Stone Hospice het in Martelise se laaste weke die gesin bygestaan en verligtende sorg aan hulle gebied.

In ’n kleurvolle saal het 300 dames byeengekom, gasvroue het tafels mooigemaak en lekker eetgoed bedien en uiteindelik is nie minder as R67 500 ingesamel nie. Volgens Tersia Burger, bedryfshoof by Stepping Stone Hospice, sal hierdie fondse aangewend word tot die koste van die uitbreiding van hulle eenheid in New Market Park waar daar dan ook vir jonger pasiënte voorsiening gemaak gaan word.

Jana du Plessis, ondermeer motiveringspreker en Finesse se Inspirasievrou vir 2013, het met haar praatjie verskeie dames ’n traan laat wegpik, maar ook ’n boodskap van hoop, geloof en vreugde, selfs wanneer die lewe sy swaar kant vir jou wys, met die gehoor gedeel.

Jana, ’n gevierde atleet, se lewe het oop voor haar gelê en sy het dit voluit geleef, maar kanker het drie keer aan haar deur kom klop en sy moes elke keer die prys daarvoor betaal. As atleet moes sy aanpas nadat sy haar been weens kanker verloor het. Sy is ’n tweede en derde keer met kanker gediagnoseer en in hierdie tyd moes sy en haar man die baie moeilike besluit neem: Gaan sy mamma wees vir haar twee kinders, chemoterapie deurmaak en so haar ongebore baba prysgee, of gaan sy deurgaan met ’n swangerskap en dan dalk die stryd teen kanker verloor. Die besluit was eindelik om die 10-weke babatjie te aborteer.

Sy leef vandag steeds met kanker en moet elke dag haar chemo-pille drink. Tog blink haar oë met die wonder van die lewe en haar diep geloof in haar Skepper straal uit haar wese.’n Vrou wat elkeen teenwoordig laat besef het, aarde tyd is geleende tyd en dat dit wat baie as vanselfsprekend aanvaar, iets is waarvoor ander biddend pleit.

Tersia het namens Stepping Stone Hospice Maritha bedank vir die ongelooflike inisiatief: “Maritha, die hospice bring vandag eer aan jou en bedank jou vir jou moedigheid, jou ondersteuning en toegewydheid aan Stepping Stone, ten spyte van jou eie rou. Jou kind se nalatenskap sal voortleef in die nuwe eenheid wat ons gaan oprig. Sy sal nooit vergeet word nie.”

*Stepping Stone Hospice and Care Services is ’n nie-winsgewende organisasie. Vir meer inligting kontak 087 997 0222 of besoek hul webwerf by www.steppingstonehospice.co.za

Lees ook:

*Hospice care-giving course

*Helping Hospice

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button