AfriForum loods appèl
AfriForum het ‘n interne appèl teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geloods, ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (Wet No. 2 van 2000).
AfriForum het ‘n interne appèl teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geloods, ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (Wet No. 2 van 2000).
Dit kom nadat dié burgerregtewaghond se aansoek om die volledige interne-ouditverslag (2012) oor opleiding in die SAPD te bekom deur die SAPD geweier is.
Dié verslag dui onder meer daarop dat die polisie in 2012 kernmodules uit hulle taktiese opleiding verwyder het.
“Die vraag wat by AfriForum ontstaan is dat dit moontlik een van die redes kan wees vir die toename in polisiemoorde,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.
”In 2015 alleen is daar meer as 60 polisiebeamptes aan diens vermoor. Volgens ’n deel van die verslag wat aan AfriForum beskikbaar gestel is, het die polisie modules in die taktiese kursus verwyder.
”Die kursus se tydsduur is ook van die oorspronklike vier weke na slegs twee verkort.”
Die volgende modules is onder meer verwyder:
· Taktiese haelgeweeropleiding
· Helikopteroefeninge
· Padblokkades
“Indien die appèl onsuksesvol is, sal ons hierdie saak in die hof beveg,” het Cameron bygevoeg.
”Statistieke oor gewapende roof met verswarende omstandighede het in die afgelope vyf jaar met sowat 27 persent gestyg. Met die nodige opleiding kan die polisie hierdie statistiek egter laat daal.”
Die REKORD het die SAPD gekontak, maar die polisie het nie op versoeke om kommentaar te lewer gereageer nie.
*Mediaverklaring uitgereik deur Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.



