Elrine is nuut by Tutela
Mense kan ook in gevalle van nood die noodnommer op 082 852 3918 skakel.
NA haar eersteling se geboorte was Elrine van Rensburg opsoek na iets waar sy ’n verskil in ander se lewens kon maak en dit is hoe sy by die Christelike Maatskaplike Raad (CMR), wat nou as Tutela bekend staan, betrokke geraak het.
Elrine is in 2012 met Rudolf getroud en woon al ses jaar in Alberton. Sy het die advertensie in die koerant gesien en besluit om aansoek te doen vir die pos by Tutela en het op 15 Februarie vanjaar as die kantoor- en bemarkingsbestuurder begin.
Vir haar is dit die lekkerste om ’n verskil in ander se lewens te maak. “My werk maak my daagliks meer dankbaar vir al die klein goedjies in my eie lewe omdat daar so baie mense daarbuite is wat niks het nie,” het Elrine gesê. Sy het ook gesê dat sy ekstra dankbaar is op koue dae, want dit is wanneer die meeste mense Tutela besoek.
Van haar uitdagings is dat hulle nie altyd genoeg geld of skenkings het om in mense, wat onder die broodlyn leef, se behoeftes te kan voorsien nie.
Haar doelwitte vir Tutela is om meer projekte te genereer sodat hulle onafhanklik kan wees.
“As mens die woord ‘charity’ hoor dink hulle dadelik dit is mense wat net geld soek, maar ons is bereid om vir daai donasie of skenking te werk,” het Elrine verduidelik.
Die CMR se naam het vanjaar na die Latynse woord ‘tutela’ wat ‘om te gee’ beteken, verander. Volgens Elrine is alles nog dieselfde, net die naam het verander. Alberton Tutela het vier maatskaplike werkers en vier maatskaplikehulpwerkers wat daagliks op die pad is om kos aan te ry of met ander dienste na die basiese behoeftes van minderbevoorregte mense om te sien.
Elrine het aan die RECORD gesê dat die rede hoekom Tutela anders as ander organisasies is, is omdat hulle ’n hele spektrum van werk aanbied. “Tutela is uniek. Dié nie-winsgewende organisasie fokus op gesin- en kindersorg.”
Tutela is weeksdae oop op Maandae vanaf 08:00 tot 16:00, Dinsdae tot Donderdae van 07:30 tot 16:00 en Vrydae vanaf 07:30 tot 14:00. Mense kan ook in gevalle van nood die noodnommer 082 852 3918 skakel.



