NewsSchool sportSchoolsSport

Hoërskool Alberton wen weer

Hoërskool Alberton het hul pad na die halfeindstryd van die Goue Leeus Groot Skole Toernooi oop gekerf deur Hoërskool Bastion ’n rugbyles te leer op hul tuisveld.

HOËRSKOOL Alberton het hul pad na die halfeindstryd van die Goue Leeus Groot Skole Toernooi oop gekerf deur Hoërskool Bastion ’n rugbyles te leer op hul tuisveld.

Allies het vir Bastion ’n behoorlike loesing gegee met 39 punte teenoor vyf, op Saterdag 4 Junie.

Die tuisspan het goed begin en Bastion onder geweldige druk geplaas en van vroeg af die punte begin opstapel, met die eerste drie en suksesvolle verdoeling deur die konstante Caltino Jones, wat vir hierdie wedstryd in die skrumskakel trui uitgedraf het.

Bastion het egter na die afskop inisiatief geneem en ’n strafskop by die kantlyn uitgeskop. Na hul die lynstaan gewen het, het die besoekers ’n goeie drie gaan druk om die telling 7-5 te maak.

Van daar af was dit alles eenrigting-verkeer met Allies wat in alle fasette oorheers het en flank, Tyron Loots het ’n drie gaan druk wat weer eens deur Jones verdoel is om die tuisspan nog twee punte, sowel as ’n latere strafskop, in die sakkie te bring. Met halftyd het Allies gespog met ’n allemintige 17-5 op die telbord.

Na halftyd, het die tuisspan aangehou aanval, en die span se kaptein, Lunga Molele het oor die doellyn vir sy span vyf punte gaan haal, en Jones se skopskoen het vir nog twee punte gesorg.

Bastion het terugbaklei, maar Alberton se verdediging het gehou en gereeld gesorg vir ’n omdraai van besit.

Loots het ook weer onder die pale gaan kuier, maar die Albertonspan was nog nie klaar met die manne van Bastion nie, en Jonothan Potgieter het nog vyf punte vir sy span besorg, na ’n slim skoppie deur die aflos skrumskakel, Francois Myburg.

Hierdie goeie vertoning deur Alberton besorg hulle ’n kans om die NWU-Pukke Super 16 kampioene aan te vat. Allies sal op Saterdag 11 Junie, vir Hoërskool Linden in die halfeindstryd ontmoet, op die Allies se tuisgronde, om te sien wie sal die onoorwonne Namies (Hoërskool Dinamika) in die eindstryd beetpak. Allies sal graag die Namies wil ontmoet in die eindstryd om wraak te neem vir hul vorige 3-6 nederlaag teen Dinamika.

As dit gebeur, sal dit beteken dat dié finaal ’n Alberton affêre sal wees, en beslis iets om op trots te wees.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button