Gesin verloor alles in brand
“Ons moes kies tussen kos of versekering.”
DIE Collinet-gesin het binne ure alles wat hulle besit het verloor nadat hulle huis in Dovestraat in Kliprivier deur ’n brand vernietig is. Dit het Maandagoggend, 20 Junie, omstreeks 02:50 gebeur.
’n Kortsluiting in die kombuiskas was die oorsaak van die brand. Volgens Jackie (40), ’n naskool-onderwyseres by Laerskool Orion, het sy wakker geword van glas wat breek en sy het dadelik haar man, Werner (49), wakker gemaak omdat sy gedink het iemand is besig om in te breek. “Toe hy opstaan om te gaan kyk het hy terug kamer toe gehardloop en gesê hier is moeilikheid ons moet uit. Ek onthou nog dat hy gesukkel het om ons ganghek oop te sluit en mens kon die vure toe al sien,” het sy gesê.
Jackie het verder vertel dat van haar bure vir hulle begin klere aandra het omdat hulle nie skoene of warm klere aangehad het nie.
Werner is al vir twee jaar lank sonder ’n werk en die gesin moes kies of hulle kos gaan koop of versekering betaal. “Ons het geen huis of gebouversekering nie en het byna alles verloor. Die rook het deur alles getrek en alles is vol roet.”
Jackie het ook gesê dat sy haar seun, Divan (11), se nek lelik gekrap het omdat sy hom vinnig uit die huis wou hê.
Die gesin bly tans in ’n twee slaapkamer woonstel by vriende. “Ek kan nog nie sê wat ek nodig het nie, alles is nog deurmekaar en ons maak nog eers skoon,” het sy gesê.
Iets goeds vanuit die hele brand is dat Jackie en haar oudste dogter, Jade (17), wat onlangs uitgetrek het, nader aan mekaar is. “Ons het ons probleme gehad en dit is asof iets net verander het na die brand,” het ’n huilende Jackie gesê.
“My ma is verlede jaar oorlede en ek het ’n foto van haar in my sitkamer voor die kaggel gehad en die foto het niks oorgekom nie, alles rondom die foto is gebrand. Ek is so dankbaar vir dit, want dit is iets wat ’n mens nie kan vervang nie.”
Jackie en haar gesin bedank spesifiek die NG Kliprivier Kerk, Laundry Mat, St Mary’s Kinderhuis en Kliprivier Buurtwag vir al die hulp die afgelope week. “Ook dankie aan al die mense in ons straat wat beurte maak om vir ons kos te maak. Dankie vir elke bietjie, elke skenking, oproep en SMS.”
Met groot dankbaarheid het sy gesê dat ‘dankie’ nie eers die opregtheid van die woord kan beskryf nie.
Ten spyte van die brand is die gesin hoopvol om na al die skoonmaak aan planne te begin werk om die huis oor te bou.
Inwoners wat ’n geldelike skenking wil maak kan dit by Laerskool Orion se rekening inbetaal by, Absa, rekeningnommer 405 891 2419, takkode 632005, met verwysing 0825-004 gevolg deur die skenker se naam.
Toiletware en nie-bederfbare kos kan ook by die skool afgelaai word.
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za









