Local NewsNews

Vrou betrap diewe op heterdaad

Vrou probeer twee rowers met haar voertuig blok terwyl hulle maters besig was om haar huis te besteel.

ADRENALIEN het ingeskop en sonder om aan die nagevolge van haar aksies te dink het sy in die inbrekers se voertuig gespring om hulle te probeer stop.

Janine Janse van Rensburg (42) het ’n wilde kans gevat toe sy inbrekers wat besig was om haar huis leeg te dra betrap het. Dit was ’n gewone Donderdagoggend op 4 Augustus vir haar, ’n ma van twee. Sy was na ’n winkel toe en toe sy terug ry na haar huis toe, het sy die inbrekers betrap.

“Ek wou nog eers gaan vra wat hulle doen, maar ek het duidelik gesien dat hulle besig is om my huis te besteel. Ek het hulle twee keer met my voertuig geblok en na die tweede keer het een van die mans my motorsleutels deur my oop venster gegryp,” het Janine gesê.

Volgens haar het een van die mans wat in die voertuig was vir die ander twee mans weggery.

“Ek het uit my kar geklim en agter hulle aangehardloop en toe sien ek die kans om deur die venster van die voertuig te spring. In my poging om in die voertuig te probeer inkom, het die bestuurder my of met sy vuis of met ’n pistool teen my linkerkantse oog geslaan. Ek het uitgeval en hulle het weggekom.”

Een van haar bure het uitgekom en haar gehelp. “Ek het net begin huil en erge pyn ervaar,” het sy aan die REKORD gesê.

Hulle is weg met twee skootrekenaars, twee TV’s, juwele en ’n kringklankstelsel. “Adrenalien het so vinnig ingeskop, ek kan nou nog nie sê hoekom ek gedoen het wat ek gedoen het nie,” het Janine vertel. Janine het ook beserings op haar linkerarm en -hand opgedoen. Verskeie sekuriteitsmaatskappye, ’n ambulans en SAPD het vinnig gereageer en haar gehelp.

Sy het vertel dat hulle al 17 jaar lank in Verwoedpark bly. “Ek lewe nou in vrees.” Janine het ook gesê dat haar man hulle huis se sekuriteit gaan aanpas.

’n Saak is by die Alberton polisiestasie oopgemaak met die saaknommer CAS 67/08/2016 en die polisie ondersoek nog die saak.

Sy kry baie ondersteuning by haar vriende en familie sowel as by haar kinders se skool en hulle kerk.

Janine het ook tydens die onderhoud haar dank uitgespreek teenoor almal wat haar geondersteun het. “Ek is baie dankbaar vir my familie, vriende, ouers waar my kinders skoolgaan en lidmate van ons kerk en ook aan God wat my veilig bewaar het.”

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier:079 404 5789.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button