NewsSchools

Jeandri het die wêreld aan haar voete

’n Meisie met ’n passie vir alles.

JEANDRI Wilson is een jong meisie met baie drome, ’n passie vir die lewe en boonop is sy ook baie talentvol.

Die 16-jarige van Brackenhurst vier vandeesmaand haar 17de verjaardag. As leerder van Hoërskool Alberton is sy bekend as ’n presteerder in sport, kultuur en akademie. Kultuur is haar gunsteling en ook die gebied waarin sy die meeste uitblink.

Sy het tydens vanjaar se kunswedstryd aan 17 individuele items deelgeneem en 15 diplomas ontvang en twee goue sertifikate verower. Sy was ook die wenner van sewe items en verower ’n derde plek in die vokale afdeling. Met haar groepitems het dié senior spreekkoor, sang- en redenaarsgroep as die itemwenners weggestap.

Jeandri het tydens die Radikale Redenaars vir individuele lees (Afrikaanse en Engelse poësie en prosa) vir al vier items bo 90 persent gekry. Hul redenaarsgroep het 94 persent vir hul redenaarstoespraak gekry.

GELAND: Hier is Jeandri en van haar sangmaats na hul toer na Spanje.
GELAND: Hier is Jeandri en van haar sangmaats na hul toer na Spanje.

Jeandri sing ook tans in die Colla Voce Jeugkoor onder leiding van Henk Barnard en geniet elke oomblik. Sy sê dit is baie inspirerend en leersaam om in ’n koor te kan sing. “Dit is vir my ’n groot voorreg,” het sy gesê.

Sy was ook lid van die Cantare Koor onder leiding van Ida Strydom en dis hier waar haar wortels gelê is. Sy het saam met dié koor in Maart met hul ‘Golden Voices of Montserrat Competition’ na Spanje getoer. Daar was hulle as wenners aangewys en het hulle ’n eerste prys in die kinderkoor-afdeling gekry, maar die bonus prys was die Grand Prix prys vir 100 persent. Dis die hoogste toekenning wat by die kompetisie toegeken word en hulle het dit ontvang vir hul volkstradisionele musiek. “Dit was ’n groot belewenis en ek sal dit graag weer wil doen,” het sy gesê.

Die Cantare koor het ook in 2015 na die Anomato finaal deurgedring. Tydens 2015 se prysuitdeling van Hoërskool Alberton het sy vir die derde keer die Kabous Koegelenberg trofee verower vir haar besondere prestasies in die eisteddfod, asook die Reunert trofee vir die kultuur leerder van die jaar. Sy’t ook weggestap met die Jan Coetzee-skild vir die beste enkele prestasie in kultuur. In 2015 was sy in albei haar items by die Radikale Redenaars en Leesfees-kompetisie as die nasionale wenner aangewys.

TE LEKKER: Jeandri saam met haar maats in 'The Hard Café'.
TE LEKKER: Jeandri saam met haar maats in ‘The Hard Café’.

 

Tydens 2015 se Albertonse Eisteddfod het sy aan 19 items deelgeneem, waarvan 18 diplomas en een goue sertifikaat was. Sy was in 10 items ’n itemwenner en het ook ’n tweede plek in die Engelse-afdeling behaal. Sy het ook in 2014 ’n tweede plek in dié afdeling behaal.

Volgens haar moet haar stukke waarmee sy werk, met haar praat. Sodra dit gebeur weet sy dat dit die regte een is. Jeandri vertel dat sy dit vinnig leer, in ’n toe kamer waar sy net met haarself kan praat.

“Ek is senuweeagtig voor ek op die verhoog gaan omdat ek graag my beste wil gee, maar ek geniet elke oomblik daarvan.”

Jeandri neem ook aan atletiek en netbal deel en die o.17-netbalspan waarvan sy lid is, was tydens die netballiga vanjaar die naaswenners.

PRETTIG: Jeandri Wilson by Tossa de Mar in Spanje.
PRETTIG: Jeandri Wilson by Tossa de Mar in Spanje.

Sy is ook as ’n VRL-lid vir 2017 verkies.

Haar stokperdjies is swem en netbal en sy is lief daarvoor om te bak. In haar vrye tyd spandeer sy graag tyd saam met haar vriende en familie.

Iets wat mense nie van haar weet nie is dat sy baie bang is vir motte, slange en spinnekoppe. “Ek hou ook nie baie van eier nie en sal dit nie net so kan eet nie,” het sy gesê.

Sy het baie mense wat haar inspireer, maar haar grootste inspirasie is God omdat Hy haar met soveel talente geseën het. Jeandri wil graag na skool aan die Universiteit van Pretoria haarself as ’n onderwyseres bekwaam en hier het haar ma, Luzette, haar geïnspireer omdat sy al vir 27 jaar ’n onderwyseres by Hoërskool Alberton is. “Ek wil skoolhou vir kinders van graad nul tot drie, juis omdat my oupa, David Viljoen, my as kleuter altyd bygestaan het en my so baie geleer het. Ek was baie bang op daai stadium van my lewe en hy het alles net beter gemaak.

“Ek wil net noem dat almal in my familie baie ondersteunend is en dat elkeen van hulle ’n belangrike rol in my lewe speel. Ek kan elke dag net dankie sê vir die wonderlike mense in my lewe,” het Jeandri gesê.

Haar opsie B is sang omdat sy ’n passie daarvoor het.

“Ek sal goeie navorsing moet doen voordat ek eendag ’n sangloopbaan sal kan volg.”

SANG: Jason Putter en Jeandri Wilson saam met hul koorafrigter, Ida Strydom.
SANG: Jason Putter en Jeandri Wilson saam met hul koorafrigter, Ida Strydom.

Haar doelwitte vir graad 12 is om matriek goed te slaag, die jaar voluit te lewe en net elke oomblik te geniet.

“Wees suksesvol, gelukkig en doen alles met ’n passie,” is haar lewensmotto.

Volgens haar is dit baie belangrik om altyd ’n positiewe gesindheid te hê, want met dit bereik jy alles.

Tydens die onderhoud toe die RECORD haar gevra het om haarself te beskryf, het sy die volgende gesê, “Ek is ’n unieke skepsel van God. Ek is ’n lojale, vriendelike en passievolle meisie wat nog haar hele lewe voor haar het, dit maak nie saak wat ek doen nie, ek wil seker maak ek doen dit voluit en met passie.”

 

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier:079 404 5789.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add Alberton Record as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button