HOëRSKOOL Marais Viljoen het ’n Rump Dump op die skool se sportvelde op 26 Oktober gehou om fondse in te samel.
’n Rump Dump is ’n spel van kans waar ’n bul op die sportveld wandel en, afhangende van waar die bul sy vuil besigheid doen, wen iemand ’n prys.
Deelnemers het elkeen hul eie stukkie grond teen R100 vir die spel gekoop en duim vasgehou dat die bul sy besigheid daar doen. Hoe meer stukkies grond ’n deelnemer gekoop het, hoe beter was hul kanse om dan te wen.
Om 8vm was die bul (wat ook die skool voorheen by hul Meneer en Mejuffrou Lente byeenkomste besoek het), by die skool deur Christo van Aardt, bestuurder van die Marats Brahmaan Stoet Boerdery, afgelaai.
Omdat die bul nie van plan was om lang draaie te loop nie, was die kompetisie sommer binne 25 minute verby. Hy het sy merk oor drie blokke in die “KK”-ry (dis nou snaaks, of hoe?) gelaat.

Die prysgeld is deur die bedrag geld wat vanuit kaartjieverkopes ingevorder is, bepaal. Die Gr.11A38 klas het altesaam 72 kaartjies, die meeste van enige ander klas, ingevorder. Elke leerling van die klas het toe ’n hamburger as prys gekry.
Die wenners is deur Alberton se Nkonki Ouditeurs aangewys. Eerste prys het na Dirk Beukes gegaan, tweede prys na Jannie Breed en derdy prys na Heather Stopford. Die individuele prysgeld is nie bekendgemaak nie, maar dit is ’n persentasie van die kaartjieverkope en elkeen het ’n paar duisend rand gekry. Nathan Botha van Gr. 8A41 het met die Rump Dump naam opgekom en het ook ’n geskenk gekry.
“Ons sê dankie vir almal wat die byeenkoms ondersteun het, veral Eugene Marais en oom Attie Swarts, mede-eienaars van die bul, dat hulle hom in die hoofrol van die Rump Dump-wedstryd beskikbaar gestel het,” het Wolfram Zwecker namens die skool gesê. “Marais Viljoen waardeer almal se ondersteuning.”
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.



