VANJAAR se Hoërskool Alberton eerstehokkiespan gaan probeer om te bou op al hul sukses van verlede jaar.
As span, onder leiding van hul nuwe kaptein, Jade Oberholzer, meen hulle om die nodige motivering, entoesiasme en ywer weer hierdie jaar 100 persent op die veld te gee.
Verlede jaar het hulle as ligawenners vir mediumskole uit die stryd getree, en ook deurgedring na die kwartfinale van die Noordvaal-reeks vir mediumskole. Die span het egter net vyf spelers afgestaan, en met vyf nuwelinge in die span, glo die skool dat hulle net soos verlede jaar baie suksesvol sal wees.
Die span beskik oor vyf spelers wat in 2018 deurgedring het na die voorlaaste rondte van die o-18 Eastern Gautengse hokkieproewe, terwyl een speler wel in die o-16A Eastern Gautengse Hokkiespan opgeneem is. Vir Alberton Hoër is dit voorwaar ’n prestasie.
’n Groot pluspunt vir die eerstehokkiespan is dat sewe lede van die span opgeneem is in die distriksatletiekspan, wat beteken dat hul fiksheid tans van die hoogste gehalte is. Die afrigters van hierdie span, Linda Coston en Simone Opperman, is baie opgewonde oor die seisoen wat voorlê.
Deel van die voorbereiding vir vanjaar se liga is ’n toer na Namibië waar hulle onder andere aan die Walvisbaai Privaat Hoërskool se Walvisfees wat in die komende skoolvakansie plaasvind, gaan deelneem. Hier sal Rouxné Pienaar as spanbestuurder by die twee afrigters aansluit.
Dit sal die eerste keer in die geskiedenis van Alberton Hoër wees dat een van hulle hokkiespanne aan ’n internasionale kompetisie gaan deelneem. Die span sien geweldig uit na hierdie toer en hul voorbereiding daarvoor geskied met die grootste entoesiasme en werksywer.
Die skool glo dat 2019 net goeie dinge vir die span sal inhou.
(Artikel en foto deur Wayne Raath verskaf.)
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton Record, Comaro Chronicle, Southern Courier and Get it Joburg South Magazine.
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.za, juliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za
Get regular news updates sent directly to your inbox: Newsletter-Signup



